skemerdonker

In vandag se Beeld

Sakevrou, koekversierder skiet haarself glo
Oct 31 2007 07:13:44:610AM  - (SA)  












Elsje Neethling-Blair ‘n Bekende Bloemfonteinse sakevrou, mev. Ansie Stander (53), was waarskynlik oorwerk en het selfmoord gepleeg buite haar huis in Universitas, Bloemfontein.

Mnr. Hennie Stander, bekende prokureur en man van dié geliefde koekversierder, vertel: “Ansie het tussen 80 en ‘n 100 koeke per week gebak.

“Ek weet sy was oorwerk. Sy het eenvoudig te veel werk gehad en het te hard gewerk. Sy kon vir niemand ‘nee’ sê nie.

“Ek het gister omstreeks 06:05 werk toe gegaan. Ons seun, Rikus (23), het in die huis geslaap. Hy het my tien minute later by die kantoor gebel en gesê: ‘Pappa, Mamma het haarself geskiet.’ Ek het dadelik huis toe gery.”

Rikus sê hy het wakker geword van ‘n geweerskoot en op Ansie afgekom waar sy reeds dood buite gelê het.

“Sy het bo-op ‘n kartonboks, wat sy gebruik vir die basis van haar koeke, gelê en haarself met my rewolwer in haar hart geskiet. Sy is op slag dood,” sê Stander.

“My vrou is ‘n opgeleide verpleegkundige en die belangstelling in koekversiering het 22 jaar gelede begin toe sy ‘n verjaardagkoek vir Rikus se verjaardag gemaak het.

“Hierna het sy kursusse in die kuns van koekversiering geneem en het later só goed gevorder dat sy self ook klas gegee het.

“Ansie was betrokke by die Bloemfonteinse tak van die Suid-Afrikaanse Koekversierdersgilde en ‘n bestuurslid van die Bloemfonteinse Fynproewersgilde.

“Sy was ook betrokke by die NG kerk Universitasrif en sy het vir feitlik al die tuisnywerhede in die stad gebak. Sy was ook ‘n beoordelaar en bekende gesig op die Bloemfontein-skou se koekuitstallings,” vertel hy.

Terwyl familie en vriende gister met die familie kom simpatiseer het, het een of twee histeriese bruide, wat die tragiese nuus gehoor het, gebel net om te hoor “of sal hul troukoek nou nog betyds klaar sal wees”.

Stander word ook oorleef deur haar dogter, Jeane-Mari (Jay) en skoonseun, André (Spies) van Heerden, haar suster, Hela van der Merwe, en broer, Riaan Conradie.

Sê vir my asseblief dis nie tong in die kies geskryf nie.


Posted in Uncategorized

Goodbye Oom Schalk Lourens

Dis reg oor die nuus dat die Boy van Bethulie, Patrick Mynhardt gister aan natuurlike oorsake oorlede is terwyl hy in Engeland op toer was met ‘n verhoogstuk. Patrick Mynhardt het op ‘n tyd gesê dat hy Herman Charles Bosman bekend gemaak het, maar dat Herman Charles Bosman hom ryk gemaak het.

Nouja, ek het maar eers onlangs regtig ‘n fan geraak van HCB nadat ek ‘n naweek in Groot Marico spandeer het saam met ‘n paar legendes van die Herman Charles Bosman Literary Society. Ons het eintlik gegaan om te gaan werk - gekleurde grond saam met die Basadi vrouens uitgegrawe, vars koeimis opgetel, dit op die regte manier gemeng met water en toe die mure met ons hande geverf onder die bekwame leiding van die Basadis.

Wat die naweek meer spesiaal gemaak het, is dat alles op die Marico wyse geskied het. Ontbyt was roosterkoek en vyekonfyt en kaas, koffie is op die vuur gestook (met ‘n stuk kooltjie om die moer te laat sak) en afgesluk saam met plaasmelk in ‘n blikbeker wat jou onderlip ‘n kwaai blaas kan brand, en die egte mense van die Marico met hulle baarde en lang hare wat HCB stories en staaltjies vertel. Ek kan sien hoe Herman Charles Bosman sy inspirasie gekry het uit die wêreld.

By die huis gekom het ek dadelik my ma se Bosman boek gegryp en Oom Willem Prinsloo’s Peach Brandy gelees. Ek het myself vang kliphard oopmond lag. The Bekkersdal Marathon bly my gunsteling. Die skets gaan oor die dominee wat ietwat narkolepties was en dan sommer so in die preek aan die slaap geraak het. Die spesifieke Sondag het hulle ook die orrelis aan diens gehad wat so elke nou en dan ‘n slukkie “medisyne” neem. Dominee kondig toe Psalm 119 aan, maar voordat hy kon sê watter verse, toe gaan hy in een van sy transe in. Die orrelis begin te speel, maar omdat niemand weet waar om op te hou nie, en Dominee kyk nie op nie, sing hulle toe maar al 176 verse daarvan. Tussen dit als deur het die orrelis se voorraad opgedroog en die ouderlinge het beurte gemaak om vir hom nagmaalwyn te gaan haal, maar elke keer as ‘n ouderling terugkom dan is hy ook ietwat gekletter. En die gemeente het gesing. Toe almal heeltemal uitasem die laaste noot sing skrik Dominee wakker en sê: “Gemeente, ons sing Psalm 119″.

Ek het ook oor die nuus gehoor dat Patrick Mynhardt langs Herman Charles Bosman begrawe gaan word in Wespark begraafplaas. Dan is ons ook bure.


Posted in Uncategorized

Rip van Winkel

Oct 23
1 Comment

Ek’s terug in volle glorie nadat daar verneem is van my gemis op ‘n ander blog. Ek het ook my karige besittings met my saamgesleep, alhoewel dit bietjie verouderd is. Ek sal wel probeer om my vroeëre mislukte beloftes na te kom en darem voor kersfees hierdie jaar iets hier te gorrel.


Posted in Uncategorized