Ek het Maandag gedink dink ek gaan dood. Hoofpyn, koorsig, naar, lyfseer. Ek het geen ander keuse gehad as om skool toe te gaan nie, want daar was niemand anders wat kon sub nie. Die diagnose: hitteuitputting. Ek word die hele oggend warm konkoksies gevoer wat van die hitte in my lyf ontslae moes raak en teen middagete kry my baas my beet gewapen met ‘n pot Tiger Balm en ‘n ding wat lyk soos ‘n kam sonder tande. Die hitte word toe uit my rug uitgeskraap. “En moenie bekommerd wees nie, dit sal eers rooi, dan blou en dan pers raak en as jou bloedsomloop goed is sal dit binne ‘n week verdwyn.”
Dit het gewerk vir die hitte, maar die hoofpyn het eers verdwyn toe ek my eie boereraat gebruik het, ‘n lekker warm koppie koffie.
So ek dink nie ek gaan Vrydag hoef te werk nie, en ja, Dorothy, I’m getting paid.
Terwyl ek so na die wurms staan en kyk het Sondagaand het ek ook vreeslik begin bepeins. Ek het binne ‘n week afskeid geneem van ‘n hele spul goeie vriende, ou vriende gesien wie ek nie gedink het ek ooit weer gaan sien nie, weer op speaking terms met my eks gekom, vir die tweede keer na die Thai disco gegaan en begin boks. Dis weer een van daardie tye in die lewe wat ek voel al die sirkels word voltooi. Eintlik het die laaste twee niks daarmee te doen nie, maar dis seker goed om te kan boks as mens by die Thai disco wil uithang.
Ek sien nogal uit na die volgende sirkel wat my lewe gaan neem, nie dat ek al enige idee het of dit ‘n ovaal of ‘n spiraal gaan wees nie. Ek’s so reg soos ‘n roer vir hierdie rit.

My poegie het vandag na 25000 km oorgeslaan. Dit beteken ek het al 20000 km in 3 jaar op hom afgelê. Dis hoe ver dit van Hsinchu na London en terug is. Nogals merkwaardig dat ek nog lewe en nie soos Quasimodo lyk van al die ry nie. 
Sarah, Bart en Sunhee se voorkop.
Nelie luister aandagtig. Julia kry so lekker, haar oë is skoon toe. Koot wonder wat hy volgende sal eet- bloukaas of mosterd?
Aangesien dit die laaste keer was wat hierdie event in die somer plaasvind, het en en my tjommies ‘n heerlike pique nique langs ‘n stille rivierstroom gehad. Daar is wonder bo wonder nog plekke op die eiland wat nie deur beton en plastiek oorgeneem is nie. Die water was helder en wonderlik koel met geen tekort aan suurstof in die lug nie. Die geselskap was van topgehalte en die kos… Kan jy aspersie-met-bloukaasslaai en malvapoedings in die bos visualiseer?
(Op BoingBoing.net gesien)
Ons het almal sitcoms gekyk in ons vormingsjare en die frase “Oh, my God” tot vervelens gehoor. Dit het ook gereeld by Oprah en haar ateljeegaste se monde uitgeblêr. Het dit enigsins êrens in ons Engelse woordeskat vashouplek gekry? My ma het my altyd vertel hoe kommin en lelik dit vir haar klink, so ek het dit nooit durf sê nie.
Hier in die Ooste is dit egter die derde sin wat mense in Engels kan sê na “Gimme fi” (Give me five) en “Hello Moto”(ek het al omgedraai en geskree my naam is nie Moto nie!). Die weergawes is eindeloos: O ma gah, O my gob, Oh my got.
O my genade, dit gee my ‘n pyn! Ek wonder nou net hoe antwoord hierdie winkel hulle telefoon…

oor die lelikste plek op aarde.
Ek weet ek gaan oor ‘n tyd van nou af terugkyk na foto’s soos die en hardop dink, “Ek kan nie glo ek het vir drie jaar hier gebly nie”.
My vorige huismaats in Taiwan, Ruan en Cecile, het pas teruggekeer van hulle wittebrood in Noord-Afrika. Ruan is ‘n fotograaf van formaat en het al selfs ‘n uitstalling in Kaapstad gehad. Hy was ook genomineer vir die Brett Kebble Awards, maar toe word die pryse saam met die man uit die prentjie gewis. Kyk, ek het al mooi foto’s van Morokko in die Sarie en Rooi Rose se modebylae gesien, maar my bek het oopgehang vir die honeymoonkiekies.
Wat ek gewaar het toe ek nie vir die bote gekyk het nie:

Ag pleeze, daddy…
‘n Verlore parasol
Fetish-agtige lekkergoed
‘n Man wat geweet het dat dit ‘n lang dag gaan wees
Boetie in sy pajamas