skemerdonker

Goodbye Oom Schalk Lourens | 26 Oktober 2007

Dis reg oor die nuus dat die Boy van Bethulie, Patrick Mynhardt gister aan natuurlike oorsake oorlede is terwyl hy in Engeland op toer was met ‘n verhoogstuk. Patrick Mynhardt het op ‘n tyd gesê dat hy Herman Charles Bosman bekend gemaak het, maar dat Herman Charles Bosman hom ryk gemaak het.

Nouja, ek het maar eers onlangs regtig ‘n fan geraak van HCB nadat ek ‘n naweek in Groot Marico spandeer het saam met ‘n paar legendes van die Herman Charles Bosman Literary Society. Ons het eintlik gegaan om te gaan werk – gekleurde grond saam met die Basadi vrouens uitgegrawe, vars koeimis opgetel, dit op die regte manier gemeng met water en toe die mure met ons hande geverf onder die bekwame leiding van die Basadis.

Wat die naweek meer spesiaal gemaak het, is dat alles op die Marico wyse geskied het. Ontbyt was roosterkoek en vyekonfyt en kaas, koffie is op die vuur gestook (met ‘n stuk kooltjie om die moer te laat sak) en afgesluk saam met plaasmelk in ‘n blikbeker wat jou onderlip ‘n kwaai blaas kan brand, en die egte mense van die Marico met hulle baarde en lang hare wat HCB stories en staaltjies vertel. Ek kan sien hoe Herman Charles Bosman sy inspirasie gekry het uit die wêreld.

By die huis gekom het ek dadelik my ma se Bosman boek gegryp en Oom Willem Prinsloo’s Peach Brandy gelees. Ek het myself vang kliphard oopmond lag. The Bekkersdal Marathon bly my gunsteling. Die skets gaan oor die dominee wat ietwat narkolepties was en dan sommer so in die preek aan die slaap geraak het. Die spesifieke Sondag het hulle ook die orrelis aan diens gehad wat so elke nou en dan ‘n slukkie “medisyne” neem. Dominee kondig toe Psalm 119 aan, maar voordat hy kon sê watter verse, toe gaan hy in een van sy transe in. Die orrelis begin te speel, maar omdat niemand weet waar om op te hou nie, en Dominee kyk nie op nie, sing hulle toe maar al 176 verse daarvan. Tussen dit als deur het die orrelis se voorraad opgedroog en die ouderlinge het beurte gemaak om vir hom nagmaalwyn te gaan haal, maar elke keer as ‘n ouderling terugkom dan is hy ook ietwat gekletter. En die gemeente het gesing. Toe almal heeltemal uitasem die laaste noot sing skrik Dominee wakker en sê: “Gemeente, ons sing Psalm 119”.

Ek het ook oor die nuus gehoor dat Patrick Mynhardt langs Herman Charles Bosman begrawe gaan word in Wespark begraafplaas. Dan is ons ook bure.


Posted in Uncategorized

3 Kommentaar »

  1. Hoekom moes jy rooi grond uitgrawe vir jou werk?

    kommentaar deur Bertus! — 26 Oktober 2007 @ 5:47 nm

  2. Negerin, die link met jou naam werk nie. Goed om van jou te hoor !

    kommentaar deur silwerminter — 27 Oktober 2007 @ 12:49 vm

  3. Bertus! Ons moes rooi, geel, pers en wit grond uithaal om die mure te verf. Ek sal nog ‘n foto opsit.

    Silwersurfer, die link is nou uitgesort.

    kommentaar deur skemerdonker — 29 Oktober 2007 @ 8:10 vm


Lewer kommentaar op skemerdonker Kanselleer antwoord